Thanksgiving

Thanksgiving Day is an annual holiday celebrating the harvest and other blessings of the past year.  Thanks are traditionally directed towards God, accompanied with feasting and prayer.  Thanksgiving is a legal holiday celebrated each year on the second Monday of October in Canada and on the fourth Thursday of November in the United States. In Canada, Thanksgiving falls on the same day as Columbus Day in the...

Thanksgiving Day is an annual holiday celebrating the harvest and other blessings of the past year.  Thanks are traditionally directed towards God, accompanied with feasting and prayer.  Thanksgiving is a legal holiday celebrated each year on the second Monday of October in Canada and on the fourth Thursday of November in the United States. In Canada, Thanksgiving falls on the same day as Columbus Day in the United States. Because of the longstanding traditions of the holiday, the celebration often extends to the weekend that falls closest to the day it is celebrated.

Wikipedia

Thanksgiving in die vreemde kan nogal ‘n dag met impak wees.  Selfs al het ek nog nooit in my lewe Thanksgiving gevier nie.  Hierdie jaar het dit my gedwing om te dink daaroor.  Oor dankie sê…

‘n Mens is geneig om nie elke dag seëninge te tel nie.  Die lewe is net té vinnig.  Dis ons almal se doelwit om so besig as moontlik te bly.  Besig bly beteken jy werk en verdien.  Jy spandeer tyd saam met jou gesin.  Tyd saam met vriende.  Tyd aan ontspanning.  Al hierdie dinge neem tyd en inspanning.  En aan die einde van die dag gaan slaap jy met ‘n dankbaarheid vir wat jy bereik het, en ‘n plan vir wat more en die dag, week en maand daarna bereik moet word.

Maar daardie dankbaarheid is meer ‘n klop op jou eie skouer as wat dit werklike dankbaarheid is.  Dis ‘n dankbaarheid vir doelwitte bereik en prestasies behaal.  Dit kyk net terug op resultate, sonder om die insette  te oorweeg.  Dit beoordeel en vergoed jou eie prestasie, sonder om regtig buite die eie-ek te gaan en ‘n paar kloppe op ander skouers uit te deel.  En dis vlietend.  Ons spandeer nie veel tyd daaraan nie, want daar is altyd weer more, en die dinge wat dan gedoen moet word.  Ekself het  ’n notaboek waarin ek dan aantekeninge maak oor dinge wat gedoen moet word.  Dinge wat onthou moet word.  Die enigste fisiese bewys van dankbaarheid is ‘n regmerkie langs gister se aantekening.  Done.  Move on.  Sonder om ooit regtig dankie te sê.

Dis hoe ons funksioneer.  Ons lewe nie in ‘n 100m-wedloop nie.  Alles wat ons doen is deel van ‘n ultra-marathon, en niemand weet waar die eindstreep is nie.  Ons hardloop net so hard en vinnig as moontlik om soveel as moontlik afstand af te lê, want afstand bepaal sukses.  Maar sukses is nie iets wat ons op ons eie kan bereik nie.  Baie mense en baie dinge is deel van daardie poging.  En dit is my verantwoordelikheid om stil te raak, daardie mense en dinge te erken en my dankbaarheid daar daarvoor te wys.

As ek terugkyk op alles wat hierdie jaar gebeur het, het ek ongelooflik baie om voor dankbaar te wees!  My lewe het so baie verander, en daar is soveel om voor dankbaar te wees.  En niks daarvan is die resultaat van my insette alleen nie…

Sedert my Pa se dood het God my ‘n goeie regsrig gegee.  Ek het ‘n paar klappe nodig gehad.  Ek was arrogant.  Ondankbaar.  Ek het vergeet waar my krag en my genade vandaan kom.  Maar God het ‘n plan met my gehad.  Met my Pa se dood het Hy my halveer, en teruggedwing op my knieë.  Hy het my gedwing om te stop, stil te raak, en Hom weer te soek.  En toe ek Hom weer vind, het Hy my Afghanistan toe gestuur.  En hier het Hy my gewys hoe belangrik dit is om elke dag Sy seën te vra, en elke dag dankie te sê vir nog ‘n dag se suksesse en mylpale.  Bo alles het Hy my weer geleer om te weet dat ek tot alles in staat is deur Hom, en dat ek swak en magteloos is sonder Hom.  Ek het weer die krag en moed gevind om my eie mislukkings en tekortkominge te erken, dit te aanvaar, die lesse daarvan te leer en aan te beweeg daarvan.  Ek het weer my sterkpunte en my potensiaal ontdek, en deur Sy Genade, die kans gekry om die beste daarvan te maak.  Ek is maar te bewus van die geestelike groei wat ek hierdie jaar ervaar het, en ek kan nie genoeg dankbaar wees daarvoor nie.  Ek dank God vir al Sy Genade die afgelope jaar, die wonderlike wyse waarop Hy met my gewerk het, en my beskerm en gelei het.  Sonder Hom is ek waarlik niks.

Maar ek is nie net geestelik geseënd nie.  Hierdie jaar het ek ook weer die liefde van my lewe gevind.  Drie-en-twintig jaar terug het ek een oggend in Desember die wonderlikste meisie ooit ontmoet.  Vir vyf jaar lank het ek haar elke jaar net oor Desembers gesien, maar ons het tussen Desembers kontak behou en ek het baie lief vir haar geraak.  Na skool het ons baie kere kontak verloor, dan weer kontak gemaak, maar elkeen was besig met sy lewe.

Vroeg in hierdie jaar het omstandighede ons weer bymekaar gebring.  Ons het die vlam tussen ons herontdek, en het daardie vlam nie warm gebrand nie!  Ons het soveel tyd verloor, maar ons het ook geweet ons het niks tyd om te mors nie.  Ons moes elke oomblik met oorgawe aangryp en die beste daarvan maak.  En ons het!

En dis waarvoor ek so dankbaar is.  Vir ‘n wonderlike vrou soos Sonja in my lewe.  Ek is dankbaar vir die liefde wat ek so oorvloedig van haar ontvang.  Vir die ondersteuning en aanmoediging wat elke dag draaglik maak.  Vir al die lag en gesels, die stil oomblikke en die styfvashou-oomblikke.  Ek is dankbaar vir die rigting wat sy vir my gee, en dat sy my hand houvas op daardie pad.  Ek is dankbaar dat sy gekies het om haar lewe saam met my deur te bring; dankbaar dat sy bereid is om vir my te wag terwyl ek hier werk.  Ek is dankbaar is vir die tuiste wat sy vir ons skep;  daardie veilige, warm plek waarheen ek kan gaan elke keer wat ek hier uitvlieg.  Ek is dankbaar vir elke boodskappie op my foon, elke geselsie oor Skype, elke e-pos en foto.  Ek kan nooit dankie genoeg sê vir die wonderlike en harde werk wat sy doen in ons verhouding en ons lewens nie.  Sy kla nooit as ek haar iets vra nie, en sy wil altyd net die beste vir my hê.

Ek is dankbaar vir die wyse waarop sy my lewe vol maak, volmaak maak en sin gee.  Ek is dankbaar vir drie pragtige kinders wat deel is van ons lewe.  Ek is dankbaar vir die voorreg om ‘n ouer vir hulle te kan wees, en elke dag deel te kan wees van hulle lewens.  Ek is dankbaar vir hulle aanvaarding en die vertroue wat hulle in my plaas.  Ek is dankbaar dat hulle my geleer het dat daar belangriker mense in my lewe is as net myself.  Ek is dankbaar vir alles wat ek vir hulle kan doen en beteken, en omgekeerd.  Ek is regtig geseënd met ‘n wonderlike Babes en ‘n wonderlike gesin.  Dankie, Sonja!  Dankie Chandré! Dankie Adriaan!  Dankie Inky-Pinky!  Julle maak my lewe onbeskryflik ryk!

 

Ek het al baie dae en nagte gewonder oor my besluit om in Afghanistan te kom werk.  Daar was donker, donker dae, waartydens dinge baie bleek gelyk het en ek oorweeg het om net my goed te vat en op die eerste vliegtuig huistoe te klim.  Maar dan skep ‘n mens weer moed.  Jy kry bystand en ondersteuning en aanmoediging uit onverwagse oorde uit, lig jou kop op en sien weer die positiewe in alles raak.  En daar is só baie positiewe redes om hier te wees!  Hierdie ervaring sal ek nêrens anders kon opdoen nie.  Die mense wat ek hier leer ken het en mee saam werk, sou ek nêrens anders mee paaie gekruis het nie.  Uit die negatiewe is soveel goeie dinge gebore, en dit het my gebring tot waar ek vandag is – ‘n werk wat ek nooit sou imagine nie, en ook nie sal verruil vir iets anders nie.

Dankie aan een en elkeen wat ‘n bydrae gemaak het tot my huidige geluk hier in Afghanistan.  Julle in Suid-Afrika, en al my vorige en huidige kollegas hier in die Sandpit.  Ek is julle ewig dankbaar vir al die bystand, al die lesse wat ek geleer het, al die ondersteuning en al die vertroue in my.  Ek is regtig gelukkig hier.  Ja, ek sou bitter graag nie so ver en lank van Sonja en die kids af wou wees nie, maar ons weet hoekom ek dit doen, en hoe lank ek dit gaan doen.  Ons sien die eindstreep en ons stap geduldig, hand-aan-hand, daarheen.  En tot daardie dag wat ek vir oulaas deur ‘n Afghaan in die lughawe harass word, sal ek positief bly, onthou hoekom ek hier is, en my seëninge tel, al is dit ook party dae moeilik.

Oukei…  So dit was ‘n vreeslike lang relaas, en teen hierdie tyd is jy seker gatvol vir al my dankies!  Maar doen dit gerus self.  Gaan sit en dink oor al jou seëninge, en die mense wat jou dra en jou liefhet en ondersteun.  Jy is dit aan jouself en aan hulle verskuldig.  Vra maar vir my…

Lance James sê dit baie mooi…

Omtrent Jaco

Ek is die risikobestuurder van 'n Amerikaanse ekonomiese ontwikkelingsmaatskappy in Afghanistan. Ek geniet die lekker brood wat die Afghane bak en staan daagliks nog verbaas teenoor hulle gebruike en lewens. Verder verlang ek negentig sekondes uit elke minuut na my pragtige gesinnetjie in Suid-Afrika, en trou ek binnekort met die wonderlikste vrou onder die son!