Captain’s Log: 132318BFEB17

In Kopwurms, Politiek, Sport by SoldaatLeave a Comment

VERTEL 'n MAATJIE...

Jacob Gatswaai Zuma

Dis moeilik om te glo (of is dit?!), maar na al die hoogdrama seder CR17 se verkiesing in Desember, houvas hierdie kroek nogsteeds die republiek se stuurwiel – krampagtig en desperaat. Ons ou landjie het al ‘n paar uitsonderlike karakters opgelewer – goed en sleg – maar hierdie moegoe begin nou regtig die koek vat. En die hartseerste/ongelooflikste van alles: hy het steeds geen idee hoekom die land, die mense en sy eie party van hom ontslae wil raak nie. “But the people still loves me…”

Ek voorsien tonne en tonne popcorn gaan opgevreet word wanneer ubaba en sy meelopers dit eendag tot in die beskuldigebank maak. Maar moet liefs nie jou asem ophou of nou al jou bitcoins verruil vir aandele in popcorn-produsente nie. Hierdie slang het nog lank nie sy laaste stuiptrekking gegee nie.

En intussen maak hy sy ANC se naam lekker gat. Gotta love it!


Patricia de Lille

En in die oorkanste hoek, maar net so hardegat om lappe te pak en te trek, het ons die agbare burgemeester van Skaapstad… Net so hardegat met die koebaai-sê soos Zumpies!

Kyk, die antie het ‘n roemryke verlede (op haar manier…), en sy het selfs destyds die eerste tamboere geslaan met die wapenskandaal, maar die ou gesegde van “power corrupts and absolute power corrupts absolutely” kon sy nou maar net nie ontduik nie.

Dis funny (en hartseer) hoe mag en invloed ‘n mens kan beweeg, beïnvloed en verander – en antie Pat kon maar net nie daardie slaggate pypkan nie. Too bad, maar dis ongelukkig die kaliber politici waarmee ons opgeskeep sit. Nie dat ek enigsings ‘n sagteplekkie vir haar of die DA het nie. Allermins! My persoonlike opinie is dat die waterkrisis (of wat daarvan oor is) uit en uit ‘n maaksel van die DA is. Maar dis ‘n gesprek vir ‘n ander dag…

PS: Hopelik sal Pat en Jacob Gatswaai teen daardie tyd albei voetnotas in die geskiedenisboeke wees…


VERLEPTE PROTEAS

Dankie tog vir al die politieke stront wat elke dag ons aandag in beslag neem – niemand let regtig op hoe absoluut pateties die Proteas in die ODI’s teen Indië vaar nie!

Goodness me – kan hulle laer daal? En dan speel hulle nog ‘n game en wys vir jou Jip! We can do it! Ek dink in daai kleedkamer knoop hulle heeldag duime dat die Zuma-debakel net asseblief toggie nog so dag of drie aanhou tot die reeks teen die Indiërs verby is. Onder die radar se moses!

Sien ek toe vanaand op Facebook iemand stel voor dat Zuma en De Lille vir die Proteas moet open – hulle weier immers om uit te wees! Ek weet net nie of jy in Korrektiewe Dienste se oranje speelpakkies mag kom kolf nie… Iets waaroor die ICC dalk binnekort sal moet besin…


Dis genoeg vir vanaand. Volgende keer vertel ek jou van lekkerder dinge. Dis parstyd in die Wynland! Lekker slaap!