Demoniese Poorte

In Bekgeveggies by Soldaat6 Comments

PARENTAL GUIDANCE/NOT FOR SENSITIVE VIEWERS...

As jy kleinserig is oor dinge soos godsdiens en 'n swetswoord hier en daar, is hierdie nou 'n goeie tyd om die knoppie te druk en ander vermaak te gaan soek.

Dankie en koebaai.

Die res - lees gerus aan!


As offisier leer jy vroeg dat daar drie dinge is wat jy nie in die kroeg bespreek nie:  vrouens, politiek en geloof.  Vandag is ek verskriklik bly my blog is nie ‘n kroeg nie, want ek het ‘n bekgeveggie om aan te knoop oor een van hierdie onderwerpe.  Soos Jacob Zuma sou sê:  “Listen properly…”

As jy my ken sal jy weet dat ek heelwat tattoos het. My regterarm het byvoorbeeld bittermin dele wat nie ge-ink is nie. Ek love my tattoos – elkeen van hulle het ‘n baie spesiale plek in my hart, en nog nooit, NOOIT, was ek spyt oor enigeen van hulle nie.

Ja, ek kan verstaan dat daar mense is wat nie van tattoos hou nie – dis immers elkeen se eie reg en eie keuse.  Ek is self nie baie mal oor ouens wat hulself van kop tot toon laat inkleur nie, maar ten minste verstaan ek so bietjie waar dit vandaan kom.  Belangrikste van alles – ek het nie ‘n probleem met vollyf tattoos nie, ek het nie ‘n probleem met ‘n lyf sonder enige tattoos nie – ek het nie ‘n probleem met enigiemand se keuse rondom tattoos nie.

Waarmee ek wel ‘n probleem het, is wanneer iemand anders ‘n probleem met my tattoos het.  Wanneer daardie probleem verder opgeblaas en gemotiveer word met godsdiens en geloof, en dan in my keel afgedruk word as die alfa en omega, dan raak die probleem baie persoonlik.  En ek raak sommer dik moerig.

Die afgelope week het ek toe mos nou weer in so relletjie betrokke geraak..  ‘n Kennis op Facebook pos die volgende skakel:

Tattoos and Piercings Open Demonic Portals

Ag man, en onmiddellik is dit toe mos nou game on vir my!  My aanvanklike antwoord was kort en op die man af:  “I call bullshit!”

(Kliek gerus op die prentjie hierbo en gaan lees die artikel – ek het dit darem ook gedoen voor ek BS geroep het!)

Die kort en die lank van die artikel is dat tattoos en piercings poorte vir die demoniese wêreld is, en demone hulself aan jou kom heg wanneer jy ‘n tattoo kry. Die tattoo mag dalk vir jou een betekenis hê, maar dit het ‘n totaal ander betekenis en funksie vir die demoon wat homself aan jou gaan kom vasheg deur hierdie tattoo. En – natuurlik! – is daar ‘n boek om te koop – ‘n pdf-dokument vir die lewensreddende winskoopprys van $14.99…

Jy kan deesdae nie jou kop by die voordeur uitsteek of jou Facebook oopmaak nie, of jy struikel oor een of ander selfaangestelde profeet;  iemand wat “die ware weg” gevind het, en nou op ‘n mission is om soveel moontlik van die sondaars rondom hom (99% van die tyd is so profeet ‘n dude) tot bekering te bring.  Jy ken hulle maklik uit:  hierdie ouens het altyd een of ander onmenslike worsteling deurleef en oorleef, ‘n katarsis van “epidermiese proporsies” ondergaan, en skielik die ou ek verruil vir Oh So Holy Me v2.0 – altyd!

Tweedens gebruik hulle almal dieselfde tegniek om ‘n gevolg op te bou – vrees.  Daar is nie ‘n Bybelversie wat vrees inboesem wat hulle nie ken nie.  Elke. Liewe. Een.  Tot kotsens toe kan hulle vir jou vertel hoe verkeerd jy is, en hoe jy in die hel gaan brand as jy nie in hulle baan kom nie.  Jip, jy moet word soos hulle.  Vreesvolle vreesdrywers. Neem nou maar die boekie waarna ek vroeër verwys het wat te koop is vir slegs $14.99:

kicker

Told ya so…!

‘n Derde kenmerk van hierdie mense is gewoonlik hulle totaal-en-al fucked-up verlede.  Hierdie ouens het elke grens in die boek ge-push, elke reël gebreek, elke liewe brug verbrand.  En eers wanneer hulle totaal en al in hulle moer in was, dán het hulle geloof gevind.  Dan!  Om tot hier te kon kom, moes hulle gewoonlik eers:

  • Met die buurvrou, die buurman se donkie, ‘n neef en drie pelle se vrouens hoereer;
  • Belowende loopbane en ongekende rykdom deur hul gatte trek;
  • Elke zol, pil, poeier en naald wat jou kan laat trip probeer het – en dit gelike het;
  • Gesuip het soos visse – en ek bedoel nie water of Coke Light nie; en
  • Kort duskant, of selfs binne-in, die tronk gedraai het vir een of ander kak wat hulle aangejaag het.

Gaan kyk maar gerus – hulle almal het al te heerlik opgetos en die kers aan albei kante probeer brand – en elke oomblik daarvan geniet!  Tot op ‘n punt, natuurlik.

Hierdie punt is gewoonlik ‘n punt van desperaatheid – wanneer al die geld en pêlle weg is, al die bottels en naalde leeg is, die vrou, kinders, familie en vriende hulle lappe gepak en gewaai het, die baas hul gatte op straat geskop het en die bank al die dakke, wiele en luxuries kom vat het.  Dan skielik krap hierdie ouens ‘n Bybel uit, en met dieselfde oorgawe en intensiteit waarmee hul voorheen onaanvaarbare uiterstes beproef het, doen hulle nou die godsdiens-ding.

Verstaan vir my baie mooi:  ek weet nie almal wat ‘n ommekeer in hul lewens gemaak het is so nie.  Listen properly – ek praat van hierdie vreesprofete.  Baie dronkies, boewe, moegoes en plein gewone mense het al hul lewens ten goede verander, en vir hulle het ek die grootste respek, veral omdat hulle hul storie kan vertel en hul getuienis kan lewer sonder om skielik te dink hulle is beter as ander.  Heeltemal anders as wat die vreesprofete dit doen.

Skielik bereik die pendulum die ander uiterste:  hierdie ouens gaan op ‘n mission om vir die pawiljoen te wys hoe wonderlik hulle skielik nou is, en hulle probeer elke trick in die boek om ‘n gevolg van lofsangers op te bou.  Actually, nie elke trick in die boek nie.  Net een.  Vrees.  Want vrees is die een ding waarmee jy mense se gedrag en denke die maklikste kan manipuleer.  Dis die Leatherman van alle tools, die enigste een wat jy nodig het.  Maak hulle bang, en hulle sal jou glo.  En om die skroewe net behoorlik aan te draai en seker te maak dat alle teenstand en weerstand verbrokkel, gooi jy ‘n Bybelversie of drie in die mix in.  Want kyk – niemand stry met wat die Bybel sê nie!  (En ek sê dit met respek én sarkasme – figure it out.)


Terug by die ou op Facebook en die link wat hy geplaas het.  Natuurlik het ek hom aangevat daaroor – ek verskil ten sterkste met die snert wat sy artikel probeer verkoop, en ek het die moed van my oortuiging om dit te sê sonder om doekies om te draai. Ek is dalk vrot van die tattoos, maar ek is not te hel besete met demone, en hierdie is verseker nie demoniese poorte nie:

mytats

Ek verduidelik toe vir die Facebook-mater dat hierdie twee tattoos ontsaglike sentimentele en lewenswaarde vir my het:

“Kom ek vertel jou bietjie van my tattoos. Elkeen van hulle simboliseer ‘n plek of tyd waar ek in my lewe was. Ek het agt van hulle, en elke keer wat ek na elkeen kyk herinner dit my aan my persoonlike groei. Twee van my tattoos is ter ere van my gesin en my verhouding met my vrou en kinders. Elke keer wat ek na hulle kyk onthou ek die belofte wat ek gemaak het om my vrou te eer en getrou aan haar te wees. Ek onthou die belofte wat ek gemaak het om na die beste van my vermoë na hulle om te sien, en nooit daarmee op te hou nie, ongeag hoe swaar of goed dit gaan.

“Op my regterarm is die Onse Vader en die woorde “Die Here is my herder”. Elke keer wat ek daarna kyk, onthou ek God se belofte dat Hy na my en my gesin sal omsien, selfs al gaan ek/ons deur die spreekwoordelike dal van die doodskaduwee. So ruk terug het ek en ‘n paar ander ouens fisies geveg vir ons lewens, en elke keer wat ek na my regterhand gekyk het, het ek geweet dat God by ons is. En Hy was! Demoniese poorte? Se gat! In lande waar die besit van ‘n Bybel strafbaar is met die dood, het ek met die Bybel op my arm rondgeloop, en nie ‘n haar op my kop is geskend nie. Vertel gou weer vir my van die “demoniese poort” wat onheil oor my sou bring, asseblief?!”

Terwyl ons dan nou op die onderwerp was, vra ek hom toe ook oor ander demoniese poorte.  Is die rekenaar/slimfoon in jou hand dan nie nie ook ‘n demoniese poort tot pornografie, pedofilie, egbreuk en owerspel nie?  Is Facebook en sosiale media dan nie ook ‘n demoniese poort tot allerlei afskuwelike dinge nie?  Die brandstof wat jy in jou voertuig gooi – demoniese poort?  Die kos op jou tafel…  Hel, ek kan dink aan nog honderde ander voorbeelde.  Op ‘n stadium het hy byvoorbeeld so klein bietjie van rigting verander en hierdie juweeltjie kwyt geraak:

“Dis ook nie noodwendig wat jy op jy tattoo nie, maar die persoon wat dit ook doen, dis amper soos vals handoplegging.”

Kanselleer jou tandartsafspraak!  Dis nie die tande wat herstel word wat die probleem is nie, maar die tandarts!  Ditto jou haarkapper.  En onderwyser.  En sportafrigter.  Want ja – dis hoe jy hierdie tipe van redenasie kan voer!  En sonder om ‘n slag te mis, gooi die man my toe onder die een Bybelversie na die ander.  Repent!  Repent!  Repent!


Hier’s die punt wat ek wil maak:  hierdie selfaangestelde profete met hul hartseer verledes en asemrowende ommekere wat fout vind met alles wat skielik nie in hul eng verwysingsraamwerkie inpas nie en dit tot onheil verklaar, gee my ‘n allemintige groot kak.  Spuitpoep, army-style.  Nee, regtig!  Hulle is soos die Taliban en ISIS.  Hulle beskou selfone en die internet as duiwels, maar gebruik dit om hulle boodskap van vrees te versprei.  WTF, dudes?!

Nog ‘n punt:  die Bybel praat van baie vals profete wat in die eindtye te voorskyn sal kom.  Jy, Facebook-mater, is een van hulle.  En ek sê dit na baie ernstige oorweging.  Ek sukkel om te verstaan hoekom mense sulke ekstremisme kan glo en kan volg.  Want kom ons wees eerlik oor die volgende twee vrae:

  • Is God ‘n God van toorn en vrees, of is Hy ‘n God van liefde – wat selfs vir hierdie getattoeërde sondaar kind noem, en Sy Seun gestuur het om vir my sondes te kom sterf?
  • Is dit regtig die mens se werk en sy plek om te oordeel oor ander, en hulle ter helle te verdoem oor iets so belagliks soos ‘n tattoo?  Wie het hierdie “profete” aangestel en daardie reg gegee om uitsprake oor ander te maak net omdat hulle nie om dieselfde vuur sit oor sekere dinge nie?

You go figure, maar moet my asseblief nie met die eerste gebod kom oordeel terwyl jy in dieselfde asem die tweede gebod vertrap nie.  Dit werk nie so nie, pappie! Dan hang jou valsprofeet-onderrokkie sleg uit. Listen properly – ek gaan nie aarsel om dit vir jou te sê nie.

O ja! Voor ek gaan… Sodra ek kan, kry ek daai moeder van ‘n tattoo wat ek nou al so lank vir my linkerarm beplan.  My linkerarm – waar al die tattoos hulde bring aan my vrou en kinders.  Oordeel gerus. :sarcmark:

Tot weersiens.

Ciao!