DvdW: Danny Cipriani

In DvdW by Soldaat1 Comment

Voor ons wegspring…


My blog sal darem net nie “myne” wees as ek nie by die tradisie van ‘n DvdW hou nie.  Soos in die goeie ou dae van DaaglikseDoos (as jy dit kan onthou het jy so pas jou ouderdom verklap…) is dit dan nou vir my ‘n voorreg om die volgende bladsy van hierdie verhaal te skryf.  Geniet hom!



DvdW: DANNY CIPRIANI


Vertel jou maatjies!

RWC2015 is in volle swang, en alreeds was daar ‘n klompie opskuddings en verrassings.  Voor die afgelope naweek het onder andere die Springbokke die onbenydenswaardige stukkie geskiedenis gemaak om vir die eerste keer ooit teen Japan te verloor, Georgia het sy staal gewys en teen verwagtinge met Tonga afgereken, en Haar Majesteit se Bleekbene, die Engelse rugbyspan, het teen ‘n erg ontwrigte Wallis verloor nadat Engeland bykans die hele wedstryd voorgeloop het.  Op Twickenham.  In hulle (die Engelse) eie World Cup.

Met Engeland in die sogenaamde “pool of death”, was hierdie verloor ‘m wake-up call vir die Engelse:  trek julle vinger, of maak gróót skande.  Wallis en Australië was skielik bo-aan die punteleer in die groep, en die Engelse se wedstryd teen die Wallabies was skielik ‘n maak of breek affêre vir die gasheernasie.

Gelukkig vir Engeland het dinge meestal in hulle guns getel.  Twickenham is ‘n intimiderende arena – selfs die All Blacks byt so af en toe die spit daar teen die Engelse af – en die Aussies weet goed van verloor op hierdie veld.  Die Engelse skare was opgesweep en bankvas agter hulle span;  Swing low, sweet chariot sou vir tagtig minute uit die pawiljoene weergalm en die Engelse spelers motiveer om 110% te gee. Volgens die bookies was Engeland die naas-gunsteling om die World Cup te wen. Selfs geskiedenis was aan die Engelse se kant: geen gasheerland is al ooit in die groepsfase van die kompetisie uitgeskakel nie.

Die Engelse het verseker ‘n baie goeie kans gestaan.

En toe, op die Saterdag voor die wedstryd, gebeur die ergste…  “Los lippe kos lewens” was die Weermag se spreekwoord altyd.  Wees versigtig wat jy kwytraak – dit mag terugkom om jou aan die gat te hap.  Ongelukkig het ene Danny Cipriani nog nooit daarvan gehoor nie.

Wie’s Danny Cipriani, vra jy?  Onse Danny is ‘n losskakel wat sy debuut vir Engeland op 8 Maart 2008 op heelagter teen Skotland sou maak, maar twee dae voor die wedstryd is hy weggelaat uit die beginspan nadat die ou tot na middernag in ‘n nagklub uitgehang het.  “Inappropriate behaviour” – daar gaan jy.

Sy debuut het toe uiteindelik ‘n week later op 15 Maart 2008 teen Ierland gekom – Cipriani het Jonny Wilkinson op losskakel in die beginspan vervang.  Na die wedstryd het Cipriani die eerste keer gewys dat sy lippe en sy brein nie lekker gesinchroniseer is nie.  Tydens ‘n lewendige onderhoud direk na die wedstryd het hy gesê “It’s the f***ing one to eight who deserve the man of the match.” Miljoene kykers se bekke het oopgehang…  Desnieteenstaande, het Cipriani sedertdien 14 toetse vir die Engelse gespeel.  Sy weglating uit die finale Wêreldbekergoep van Engeland het ook as ‘n groot skok gekom.

Cipriani het hom nie laat onderkry nie.  Op een of ander manier sou hy deel wees van die Engelse poging om die Wêreldbeker weer te wen – daarvan was hy oortuig.  As dit dan nou in die hoedanigheid van ‘n fanatiese ondersteuner moes wees – so be it.  En soos die gebruik maar is vir ouens soos Danny, eindig hy toe op as ‘n gesaghebbende kommentator en insider van alles Engels in die Wêreldbeker.  In ‘n blog-inskrywing vir Paddypower.com raak Cipriani toe die volgende juweeltjie kwyt op die dag voor die wedstryd:

Not one Australian would get into that England team right now.Danny Cipriani

En skielik was dit GAME ON…

As daar een ding is wat jy nooit moet doen nie, dan is dit om vir jou teenstanders ‘n motiveringstoespraak te skryf nie.  Nooit nie.  As die Aussies enigsins enige motivering nodig gehad het vir die wedstryd, dan was Danny se breinlose uitlating die terpentyn onder hulle jisse.

Die res is geskiedenis.  Australië het die vloer gevee met die Bleekbene.  Vyf minute voor die eindfluitjie kon jy sien hoe stroom die Twickenham faithful uit die stadion uit – gatvol en verneder. Engeland het sy naam gat gemaak, en Danny Cipriani het die doopvond se water voorsien. Die eindtelling: ‘n rekordpakslae van 13 – 33.

Cipriani se reaksie?

 

Bwahahahaha! Skielik is die Aussies nie so vrot in sy oë nie. Favourites, nogal. En dit nadat hy net die vorige dag gespog het dat NIE. EEN. ENKELE. AUSSIE. goed genoeg is om vir die Bleekbene uit te draf nie. Nes hyself, ironies.  ‘n Mens kan nie anders as om hierdie klassieke grepie uit GI Jane te onthou nie:

Dankie dat jy saamgespeel het, jongeheer Cipriani.  Jou los lippe het grotendeels bygedrae tot die grootste vernedering wat jou land nog ooit op die rugbyveld beleef het.  En dit in julle eie Wêreldbeker.  Well done.  Well freakin’ done!  Dwis!

Dit is dus met groot plesier en fanfare wat ek Danny Cipriani aanwys as my eerste Dwis van die Week – ‘n waardige ontvanger!

Vertel jou maatjies!