Lockdown Dag 1: Skryf Iets

Lockdown Dag 1:  Skryf Iets

Barnie bel eergister. Hulle is besig om te skarrel met permitte; hulle is deel van die noodsaaklike dienste wat kan voortgaan tydens die Groot Inperking.

“Jakes, skryf daar iets op Facebook wat positief is, en wat die mense positief kan maak. Ek is nou net mooi gatvol vir al die negatiwiteit en bakleiery.” Of iets in der voege, maar jy kry die boodskap. Hmmm…

Wat sê ek om ander positief te hou, sonder om voorskriftelik te klink of te wees? Sorry Barnie – no can do!

Wat ek wel kan doen is om myself en die mense rondom my te probeer positief hou, en daaroor te skryf. Net dalk help dit iemand anders, en daai een help weer iemand anders. Amper soos wat hierdie Chinese virus (ja, ek is ‘n Trump fan) sy ding doen van die een na die volgende. My eerste inskrywing op Facebook oor die lockdown (sien hieronder) bevat 11 voorstelle wat ek glo jou goed op die pad sal sit om positief te bly.

Maar ek het jou mos met die intrapslag belowe dit gaan moeilik wees, het ek nie? En moenie so smug daar sit en sê jy rol sovêr baie maklik nie. Hoeveel bekgeveggies het jy in die laaste week op Facebook gehad? Hmmm…

Frokkit, sosiale media is giftig – veral Facebook. Ek reken op Twitter gaan dit erger, maak ek vermy daai plek soos pes. Behalwe wanneer ek vir Trump-haters wat dom stellings maak vra wat hulle rook. Maar dis soort van ‘n noodsaaklike openbare diens, en ek haat het nie draad vir snowflakes en stupid anti-Trump retoriek nie. Dit daar gelaat – ek oortree die “BLY POSITIEF!”-gebod terwyl ek dit preek. Ook maar mens (en ek het ‘n verskriklike voorliefde vir ‘n goeie bekgeveggie…)!

Punt is – sosiale media gaan jou nie positief kry of hou nie. As jy nou al sukkel, bly weg daarvan af. Luister draadloos of kyk eNCA as jy inligting soek.

My pragtige vroutjie Sonja het so paar dae terug gevra ek moet nie in hierdie tyd my raad en voorstelle oor myself maak nie. Ek probeer, en dis hoekom ek hier kom skryf – op my blog mag ek dit soort van oor my maak. Want my persoonlike ervaring is al wat ek het en pretty much al wat ek kan deel. Sonder om voorskriftelik te wees, natuurlik.

Anyway. Terug na daai eerste riglyn toe. Dit gaan moeilik wees. Dis klaar moeilik. Ek dink die meeste van ons worry ons gatte af oor wat ons aan die einde hiervan gaan kry wanneer die deure eendag weer oopswaai. So baie mense leef in hierdie tye alreeds van die hand na die mond. So baie mense se beleggings is oor die laaste twee weke vir alle praktiese doeleindes verwoes op die aandelebeurse. Ek sien die kommer op mense se gesigte, al praat hulle nie daaroor nie.

Wat wag vir ons op 17 April? Die vrees en bekommernis gaan hierdie die langste 21 dae in die geskiedenis van hierdie land maak. En as jy kyk hoe Suid-Afrikaners hulle gatte aan die aanvang van die Groot Inperking afgevee het, is ek nie eens oortuig ons gaan op 17 April ons get-out-of-jail kaartjies kry nie. Selfs meer rede tot kommer en negatiwiteit…

Dis waar selfdissipline moet inkom. As jy nie na jouself kan kyk nie, gaan jy norrefok na iemand anders kan omsien nie. Dit begin by jou. En jy gaan streng moet wees met jouself. Ek dink die belangrikste besluit (wat teen hierdie tyd al geneem moes wees, mind you…) is om vrede te maak met die feit dat die lockdown-ding is wat dit is. There’s no way escaping it, en EK gaan die beste hiervan moet maak deur eerstens te aanvaar dat dit ‘n gegewe is. ‘n Blanko drie weke waar ek myself gaan definieër; no returns, no refunds.

Ek het ook genoem dat jy vinnig ‘n gemaklike roetine moet vestig. Sonja het vir haar ‘n lekker kantoor ingerig, en sy gaan aan met haar werk. Dinge is dus redelik normaal vir haar, en sy hou blêrrie goed by haar daaglikse roetine. Ek doen houtwerk vir ‘n lewe, so dis nie juis vir my maklik/moontlik om van die huis af te werk nie. Maar daar is tonne werksverwante goedjies wat ek al lankal wou doen maar nooit tyd voor gekry het nie. Ek het ‘n lysie daarvan, en dis waarop ek bedags konsentreer. Gat op stoel, en skep ‘n roetine. Boonop gee die Groot Inperking my ‘n kans om die dik lae roes van my blog af te skraap en weer ‘n slag nonsens vir internet te skryf. Welkom julle almal!

Gisteraand het ons almal saam Tri-Ominos gesit en speel, ‘n glasie wyn geniet en ‘n vleisie gebraai. Ek vermoed ons gaan onsself half simpel braai oor die volgende drie weke! Die weer hier in die Boland is perfek en as elke aand so mooi is soos gisteraand, gaan dit een van die vele hoogtepunte van hierdie tyd wees. Geen gejaag in die strate nie. Geen geraas in die buurt nie. Selfs twee berg-arende het gister ‘n draai kom maak en die skielike vrede in die dorp kom uitcheck.

So tussen deur alles het ek en MJ ‘n game gespeel wat hy rugby noem – dit behels dat hy aan die een kant staan, ek aan die ander kant, en dan moet hy hardloop en ‘n drie druk. Dit eindig wanneer hy moerig raak omdat ek ook ‘n drie druk. Ek het heelwat om te leer oor hoe om saam met ‘n baie kompeterende vyfjarige te speel…

O ja – en ek het vir Sonja met die wasgoed gehelp. Nadat sy vir my gegrom het omdat ek op my gat sit en sy emmers vol klere wasgoedlyn toe piekel… Ek sal moet fokus met die handjie-bysit ding.

Toe ek gisteraand gaan lê kon ek terugkyk op ‘n goeie dag en positiewe ervarings. Ek is nogal omring met lekker mense. Ek moet onthou om ook ‘n lekker mens te wees. Hierdie lockdown-ding kan maar kom: Dag Een was ‘n wen, en dit maak my positief!

Gee gas daar by jou en bly positief!

This Post Has 10 Comments

  1. Pofmuis

    Nou het ek lekker gelees

    1. JacoGriesel

      Dankie! En welkom by die dark arts van die blogosfeer! 😉

  2. Elma

    Aangesien ek nou n BANKbestuurder is, bestuur ek die amptenare positief…

    1. JacoGriesel

      BANKbestuurder! ROFL!

  3. Zelda

    Ek is mal hieroor. Love die feit dat jy ‘n handjie bysit met die wasgoed. 😊

    1. JacoGriesel

      Ja… Dit het ‘n geknor gekos!

  4. Son

    Waar is jou blog se like knoppie? :blush:

    1. JacoGriesel

      Hierdie is nog die standaardgraad-weergawe. :confounded:

  5. Jane Buys

    Dag 1 van lockdown was ‘business as usual’, werk mos van huis af en foon hou nie op lui nie. Dag 2 amper dieselfde want ons moet die polisie en boere op dieselfde bladsy kry ten einde die essensiele bedryf van landbou te begryp. So tussen-in het ek darem tyd gekry om die binnekant van die kar te stofsuig, huis uitvee, skottelgoed was en tuin natmaak. Kinders en ek maak verder beurte om huis leefbaar te hou. Vandag is dag van rus, stilte en gebed. Mooi dag vir almal. Dankie Jaco vir jou insette, baie humoristies!!

    1. JacoGriesel

      Julle klink erg besig, Jane!:rofl: Geniet dit en stuur groete vir almal.

Leave a Reply