Lockdown Dag 2: Krisisbestuur, en Wat Nou…

Lockdown Dag 2:  Krisisbestuur, en Wat Nou…

So sit ek toe gister hier en probeer my skryf-mojo terugkry.  Hy’s verroes – moertoe, my kroon.  Maar ek druk deur en einde te laaste het ek iets wat vaagweg lyk asof ek maar die “Publish” knoppie kan druk.  Maar toe word dit tyd vir ‘n glasie wyn en familietyd, so ek druk toe nie die knoppie nie.  

Turns out dit was ook maar beter so.  Toe ek vanoggend daai link op Facebook share en ek kliek op hom, toe eindig ek op ‘n funny plek.  Nie die plek waar ek wou wees nie.  ‘n Dodgy alley êrens op die interwebs.  Ek het lanklaas iets só vinnig van Facebook af delete!  Synde dat ek net so kort van 100 jaar terug regtig op hoogte was van website design en al die donker kunste wat daarmee gepaard gaan, gaan delete ek toe maar die hele site.  En ek bou dit in rekordtyd oor.  Rekordtyd vir ‘n blinde, want hel ek is verroes met hierdie goed.  Anywhooo….

Krisis afgeweer, en ek slaag daarin om daai “Publish” knoppie te druk – amper 24 uur later as wat ek wou, maar hierdie is extraordinary tye.  Toe sit en terug, steek die 35ste sigaret van die dag op, en waardeer my skepping.  Beter as niks, was die algemene gevoel.  But we’ll get there.  En toe trap die groot “Wat Nou?!” my! 

Wat nou?!  Een van my voornemens was om te kyk of ek tydens die Groot Inperking weer ‘n bietjie kan blog, en tipies myself, het dit gegroei tot ‘n vaste geloof dat ek die vermoë het om elke dag te kan blog.  Want dis mos maklik – jy gaan sit en jy laat glip jou vingers oor die keyboard en wanneer jy weer sien is daar iets.  As selfs Adriaan Basson elke dag ‘n gegorrel kan produseer, kan ek ook.  Turns out sy vermoë om met tos vorendag te kom oorskadu myne by verre…

 As jy nou een van die ou bloggers van weleer is (ai, those were the days!) sal jy onthou dat dit destyds verspot maklik was om die een post na die ander uit te rol.  Jis, daar was altyd iets om oor gek te skeer; altyd iemand wie se chain getrek kon word.  Facebook het dit heeltemal kom doodmaak – daai vermoë (of dalk motivering…) om te gaan sit en iets te skryf.  Elke ou het ‘n kits-opinie, en geen mens kan track hou met wat waar aangaan nie.  As jy vir ‘n uur lank iets mis op Facebook, is dit verby.  Gone.  Die volgende drie, vier, tien opinies het die feed oorgeneem.  Met blogs kon ‘n mens nog tred hou met alles.  En bloggers het mekaar met opponerende posts aangevat.  Niks snotty comments of een-twee-drie-blok-jou stuff nie.  Ordentlike bekgeveggies – soos gentlemen!  En goeie stories.  Slegte stories.  Hartseer stories.  Gedigte.  Selfs ou Frankie se paranoia.  Daai was die goeie ou aanlyndae!

Party van die ou garde verkoop deesdae dodgy skoene en hoedens – mens hoor so af en toe op Carte Blanche dit gaan nog klopdisselboom.  Ander het aanbeweeg na die hiernamaals.  Party is getroud.  Party het van die aardbol af verdwyn.  Almal Facebook en niemand blog nie.  Behalwe Anne-Marie.  Anne-Marie blog nog.  Daai girl het deursettingsvermoë!  As ons eendag ‘n Hall of Fame vir Afrikaanse bloggers bou, kan ons haar prentjie maar eerste teen die muur opsit.  Well done, girl!

Om ‘n kort storie lank te maak:  ek sit hier en ek geen  idee waaroor om te skryf nie!  Ek gaan nou maar ‘n glasie wyn gooi en oor hierdie bedryf dink.  Dalk kom ek met iets vorendag.  

Ek hoop daar waar jy is, is jou strate ook so stil soos hier.  Bly by die huis, drink ‘n wyntjie (nie heeldag nie!), braai ‘n vleisie en geniet jou mense.  En bly positief!  Maar dit het ek mos nou al klaar vir jou gevra…

Groete uit die Wynland!

This Post Has 6 Comments

  1. Krista

    Daar is heelwat nuwe bloggers op WP, kyk maar op blik.co.za. Het al van hulle ontmoet ook.

  2. Johan Smith

    welkom terug

  3. Son

    Hoog bleddie tyd jy blog weer! En flippin dankie vir die eervolle vermelding :smile::smile:

  4. Ronelle

    Dankie tog, Jaco is terug! Talent kan ook net sooo lank weggepak word!
    Loop groot, loop ver, laat daar lewe uit jou pen keyboard) loop!!!

  5. Janine

    Jippieeeeee!!!!

  6. BirgitB

    Skryf! Dis al. :blush:

Leave a Reply