Lockdown Dag 3: Hopeloosheid

Lockdown Dag 3:  Hopeloosheid

Sondag-oggend.  

Ek lees gister iemand skryf “die kerk is nie toe nie; die kerk is ontplooi!”  As soldaat was ontplooiings altyd vir my ‘n hoogtepunt.  Ek het uniform gedra van 1993 tot 1999.  Dit was rowwe jare hier in Suid-Afrika.  Almal kan die onrus en massa-slagtings in veral Gauteng en Natal onthou.  Die politiek daaragter maak nie vandag saak nie.

My eenheid, 61 Meg Bn Gp, was altyd aan die voorpunt van ontplooiings na daardie hotspots toe.  Ons was nie “skop en donner” nie – ons was net blêddie goed met wat ons gedoen het.  En ontplooiings was ons kos.  Wanneer daardie eerste waarskuwingsorders begin deurkom het, kon jy die energie in die eenheid met ‘n mes sny.  Elke kompanie/sub-eenheid wou tog net asseblief deel wees van die pakkie wat gaan opsaal en ontplooi.

Niemand het rondgeskarrel of getwyfel of geworry nie; ons was daai tyd omtrent voltyds in ‘n staat van bystand, so alles en almal was altyd gereed. Wanneer die bevel gekom het, kon ons binne ure op die pad wees.  Ons was goed opgelei, voorbereid, seker van onsself en gereed om diens te doen.  Dit klink oordrewe, maar dit was asof jy elke keer gevoel het jy het jou hele lewe lank voorberei vir hierdie nuwe uitdaging.

Die plekke waarheen ons gestuur is was nie mooi nie – daar was ‘n goeie rede hoekom ons eenheid spesifiek met ‘n gebied getaak is.  Dit sal nie verkeerd wees om te suggereer dat daar in daardie gemeenskappe ‘n gees van hopeloosheid geheers het nie.  Ons moes die hoop gaan herstel.

Vanoggend se digi-DIENS deur die NG kerke van Wellington het die tema van “Hopeloosheid is ‘n Geleentheid”.  As kleinbesigheidseienaar moet ek erken dat ek in die dae tot die aanloop van die Groot Inperking myself gereeld gekry het dat ek ‘n donker toekoms voorsien.  Hierdie virus is die laaste ding wat my besigheidjie nodig gehad het; die laaste ding wat ek in my eie lewe nodig gehad het.  Asof die daaglikse struggle om te oorleef, te groei en te floreer in die ekonomie soos ons dit geken het voor middernag van 26 Maart nie ‘n groot genoeg uitdaging was nie, het hierdie drie weke se donkerwolk van “no work, no income” soos ‘n groot klip op my gemoed kom lê.  Ek was reg om te rebelleer; ek het allerhande planne gesmee om hierdie inperkingsmaatreëls te omseil.  Meeste van hierdie planne sou ‘n element van wetsverontagsaming bevat, maar screw dit – desperate times, desperate measures.  Dit was my ingesteldheid.

Maar toe gaan sit ek een aand en dink mooi oor hierdie ding.  Ek besef toe: ek het my hele lewe lank ingeoefen vir hierdie oomblik.  Ek kon kies om deel van die probleem te wees, of ek kon kies om deel van die oplossing te wees, al sou dit tydelik ten koste van myself en my besigheid wees.  En ek het besef ons is ALMAL in hierdie bootjie.  Dit was tyd om te ontplooi en hoop te bring daar waar ek invloed het.  Dit was tyd om bevele en opdragte uit te voer vir die greater good; tyd om op te offer en diensbaar te wees.  Dit was tyd om leiding te neem en ‘n voorbeeld te wees.  Meeste van alles – dit was tyd om in blinde geloof te handel met die wete dat God in beheer is en dat hierdie alles deel van die Groot Beraam is.  En die oomblik toe ek my lot (weereens) in God se hande plaas, toe raak ek rustig. 

In die Weermag het ek die voorreg gehad om onder die bevel van formidabele bevelvoerders te dien en ek het nie geskroom om selfs my lewe in hulle hande te plaas nie – ek het geweet en geglo hulle dra my belange en welsyn op die hart en sal geen opdrag uitreik wat hulle nie voel ek die vermoë het om uit te voer nie.   Dieselfde geld nou – ek glo vas dat God nie hierdie uitdaging roekeloos oor my pad, oor ons as gesin en familie se pad, bring nie.  Net soos met ontplooiings van destyds weet ek dat daar in party eenhede ouens in body bags gaan huistoe gaan, en dis onvermydelik, maar ek weet deur my allerbeste te doen kan ek bydra om daardie body count so laag as moontlik te hou.  En net soos wat my bevelvoerders destyds rustigheid gebring het, vind ek my rustigheid nou in my Opperbevelvoerder.

Ek hoop elkeen kan hierdie rustigheid vind, en ek hoop elkeen kan hierdie geleentheid om te groei – as mens, as gemeenskapslid en as gelowige – met albei hande aangryp.  Onthou – as gelowige is jy ontplooi!  Dra jou uniform en wapenrusting met trots!  Gryp die geleentheid aan om hoop te bring daar waar jy ontplooi is!

Hemelse Vader,

Maak my gewillig om in hierdie tyd te ontplooi waar U my nodig het.  Rus my toe met U wapenrusting om hoop te bring daar waar U my ontplooi. Laat U lig deur my skyn om die donker op ander se gemoed te verdryf.

Dankie vir die wete dat U in beheer is, en dat hierdie tydperk ‘n geleentheid is om in U te groei.  Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees; God regeer.

Amen.

This Post Has 5 Comments

  1. Son

    Dankie vir hierdie. Saans bid ek maar vir ons almal, want dis al wat ek vir nou kan doen.

    1. JacoGriesel

      Hou aan om dit te doen, Son! Dis ‘n magtige wapen!

  2. BirgitB

    Dankie :pray:

  3. Trompie

    As His children, we are not the solution, but we have the Solution (Jesus) in us! Do not be afraid to preach the Solution wherever you go!!

  4. Ronelle

    Jy laat ons diep dink!!! Dankie Jaco!

Leave a Reply