Lockdown Dag Who Cares: SitRap

Lockdown Dag Who Cares: SitRap

Nope – ek is nie negatief nie!  Inteendeel!

Maar ek het vanoggend wakker geword en geen idee gehad van watter dag van die week dit is nie.  Of wat die datum is nie.  Of selfs dag hoeveel van die Groot Inperking dit is nie.

Ek mis my workshop.  Bedags bly ek besig met twee groot admin-projekkies, en twee dae terug het ek ‘n moerske lang storie vir die blog geskryf (amper klaar…), maar my hande begin sag raak.  En skoon.  Só skoon dat ek 11 houtsplinters ontdek het wat nog nooit gepla het nie.  Ek begin kantoorhandjies kry…

Verder dwaal ek op Facebook rond en skud my kop vir die Corona-histerie.  Mense is stupid.  En gullible.  En besonders stupid.  Nie jý nie!  Ander mense.  Jy weet mos.  Maar dis nie net die plaag wat mense dom maak nie…  RSG (Radio Sonder Grense) speel bedags in die agtergrond.  Ek luister so met ‘n halwe oor, veral wanneer dit nuustyd raak.  So wanneer Facebook flooded raak met hierdie nonsens, wil ek aapstuipe kry: 

VRIENDE EN FAMILIE NEEM KENNIS ASB: BAIE BELANGRIK!!!!!!!!!!! Berig ook nou-net op RSG gewees: Byna al die FB rekeninge word gekloon. Jou profielfoto en jou naam word gebruik om ' n nuwe face book rekening te skep. En dan wil hulle hê jou vriende moet hulle add, jou vriende dink dis jy en aanvaar. Van hierdie oomblik af kan die seerowers skryf wat hulle wil onder jou naam!!..... Ek wil hê jy moet weet ek het geen planne om 'n nuwe rekening oop te maak nie, so moet asseblief nie instem tot' n 2 de uitnodiging van my nie!! 😠😡 Kopieer hierdie boodskap op jou muur
Elke Tweede Ou op Facebook

Nee, Susan!  Dit was nie op die nuus nie!  Ek is heel moontlik een van net drie mense wat die RSG-nuus (en die res van al die programme!) geluister het, en ek waarborg jou daar was nie ‘n woord daaroor nie.  Toe ek ‘n omie vra of hy dit actually gehoor het, toe unfriend hy my.  Net nadat hy my aangespreek het oor respek vir ouer mense.  *sug*  Ditto vir die skoolkennis vir wie ek dit gevra het.  *groter sug*

Op ‘n meer positiewe noot:  ek het vanoggend bietjie voorraadopname gedoen om die stand van noodsaaklike proviand te bepaal.  Dinge lyk belowend.  Ek is een pakkie sigarette in die groen wat betref my begrote daaglikse kwota.  Sigarette was my grootste bekommernis!  Soos dinge nou staan kan hulle die Groot Inperking met 5 dae verleng.  Daarna gaan ek ‘n balaklava en flits moet uitgrawe vir ‘n nagtelike ekspedisie – dis nou as die verkoop van sigarette nie voor die tyd gewettig word nie.  Wie de hel dink anyway sigarette is nie ‘n noodsaaklike item vir rokers nie?!  Ja-ja…  Ek wil nie stories hoor oor ophou rook en rookverwante gesondheidsprobleme en sulke goed nie.  Hou dit maar vir jouself.  Ek rook – finish en klaar!  Dis lewensnoodsaaklik.

Die wynvoorraad lyk selfs meer belowend!  ‘n Omie stuur gister hier ‘n boodskap waar hy vra hoeveel glase wyn kan hy per dag drink as hy nog 8 bottels wyn oor het, vier glase uit ‘n bottel kry, en daar is nog siffel dae van lockdown oor.  Die antwoord:   nie genoeg nie, my oom.  Jy het jare se k@k!  Gelukkig sou dit nie help om aan te bied dat hy maar ‘n boksie kom haal nie; lockdown en daai dinge, jy weet.  So toe bied ek maar nie aan nie. *sug van verligting!*

Ek dink die feit dat die stand van die noodsaaklike proviand positief is, maak en hou my ook positief.  Ek het byvoorbeeld opgehou om mense te karring oor die RSG-boodskap.  Wen-wen!  Ek scroll nou maar verby met ‘n skud van die kop en ogies wat rol.  Ek raak ook nie betrokke in debatte/bekgevegte oor die SANW/SAPD se ontplooiing nie.  Ook nie die Chinese se meesterplan om die wêreld se bates teen ‘n appel en ui op te koop nie.  Of selfs die 5G/Corona-sameswering nie.  Nope, ek bly weg.  Scroll, skud, rol.  Scroll, skud, rol.

Iets anders wat gaan begin rol as ek langer heeldag so op my dinges sit, is ekself.  Goodness me!  Dis ‘n onvleiende foto wat ek hierbo geplaas het!  Maar ek voorsien so iets vir myself in die nabye toekoms – sans al die hare op die agterstewe.  Wat is dit met sumo wrestlers en beseerde enkels?

Kom ek laat dit maar daar.  Dis tyd om te begin dink aan ‘n glas wyn of drie, ‘n vuurtjie en ‘n varktjoppie op die kole.  Vandag kry 9/10 vir produktiwiteit.  En ek het tweekeer semi om die huis geloop.  Nie sleg vir my sumo aspirasies nie…

Laat dit juig, bly by jou huis as jy moet, en bly gesond!

Groete!

This Post Has One Comment

  1. Son

    Ek het nooit geweet daar is so baie onnosele mense nie. Dit vermoed, maar nooit geweet nie. Ek kan nie meer deal met die Facebook gegradueerdes nie.

Leave a Reply