Say It Ain’t So, Burre…

Say It Ain’t So, Burre…

In 1919 verloor die White Sox teen alle verwagtinge in die MLB World Series teen die Cincinnati Reds, en gou is daar beweringe dat die White Sox omgekoop is om die reeks te verloor.  ‘n Hengse ondersoek word geloods, en een van die White Sox helde, “Shoeless” Joe Jackson erken einde te laaste dat die bewerings die waarheid is.  Hulle was oneerlik.  Die frase “say it ain’t so, Joe” raak legendaries nadat dit verkeerdelik toegedig word aan ‘n klein seuntjie wat die vraag/stelling aan sy held (Jackson) op die trappe van die hof sou gemaak het na afloop van die verhoor.

Burre Burger het al heldestatus in Suid-Afrika bereik met die werk wat hy en sy organisasie Droogtehulp doen om voer, diesel, kos en allerhande ander hulpmiddels onder boere te versprei wat geknel gaan onder ‘n droogte wat nou al baie jare in groot dele van die land woed.  Ek dink amper nie daar is ‘n boer wat nog nie ‘n skenking gemaak of ontvang het uit hierdie inisiatief nie.  Gewone mense, die uwe inkluis, knyp gereeld ‘n paar rand af as skenking – met reg.  Sonder boere is daar nie kos op die tafel nie, en ons boere verdien elke greintjie hulp wat hulle kan kry, veral in die lig van ons regering se onwilligheid en onbeholpenheid om na hierdie nasionale bate om te sien.

Burre self het al bietjie van ‘n rock star-status ontwikkel.  Hy is ‘n gereelde spreker by fondsinsamelings, en is deur die bank bekend vir sy gewilligheid om te help, by te dra en nood te help verlig – of dit nou ‘n fondsinsameling vir ‘n siek dogtertjie is, en of dit tien interlinks vol geskenkte voer oppad na daar waar die nood mens en dier se lewens bedreig is.  Burre kom altyd tot die redding.  Dis dus te verstane dat die deursnee Burre-ondersteuner Sondag-oggend se Rapport met agterdog en selfs woede sou optel.  

Rapport, nes die meeste hoofstroom-media in Suid-Afrika, se geloofwaardigheid wanneer dit by sake soos hierdie kom, is lankal in die drein af.  Boere-bashing, Afrikaner-bashing, Blanke-bashing is lankal aan die orde van die dag.  Ek erken – ek het self aan my koffie gestik toe ek Sondag-oggend die Rapport op Netwerk24 se kak app oopmaak.  “Kan nie wees nie!” was my eerste indruk.

En soos wat dit maar gewoonlik met sulke berigte gaan, het hierdie een ook nie tekort geskiet aan die gebruiklike sensasie, vae bewerings, “hy sê, sy sê”-spekulasie en onmin en verdeeldheid wat gesaai word nie.

Die reaksie op sosiale media was soos mens dit sou verwag:  defensief, beledigend teenoor die skrywer, al die normale woo-ha.  Blitsvinnig is daar laer getrek rondom Burre.  Boodskappe van ondersteuning het ingestroom en onder sy derduisende aanhangers is Burre se lof besing, sy eer verdedig en sy werk geprys.  Soos dit hoort – veral wanneer Rapport die storie dra.Hierdie Facebook-inskrywing is veral wyd en syd gedeel:

Burre self het op Facebook laat weet dat ons nie die beriggie vir soetkoek moet opvreet nie:  hy en sy organisasie sal ‘n persverklaring uitreik om die gerugte te weerspreek of in perspektief te stel.  En daarmee saam die belofte:  “Ons organisasie of enige van ons organisasie se werknemers het nog nooit voer verkoop aan enige boer in Suid-Afrika.”  

Ek hoop van harte dis waar.  Maar dis nie die ding wat my pla nie…

Die groot bohaai wat op sosiale media opgeskop word is of boere moes betaal of nie – was die skenkings werklik skenkings, of is boere wat reeds in nood was gedwing om vir skenkings te betaal.  Die fokus was myns insiens belangrik, maar effens misplaas.  Want sien, onder al die geraas was daar ‘n groter gogga.  Hierdie uitreksel uit die Rapport-berig behoort meer aandag te kry:

Dis welbekend dat Burre kort nadat hy Droogtehulp met Burre begin het ‘n allemintige R7.7 miljoen in sy privaatrekening gehad het – alles skenkings vir die aankoop en verspreiding van voer, brandstof en dies meer.  Dit het hom genoop om in Januarie 2018 die bedryf as ‘n maatskappy sonder winsbejag te registreer.  Ek wil nie hoes, poep of skinder nie, maar enige maatskappy of organisasie wat uit die blokke R7.7 miljoen se kontant moet hanteer, moet ‘n stel boeke hê, veral as daardie geld nie deur jou eie werk gegenereer is nie, maar skenkings van die breë publiek en ander ondernemings en instansies is.  Volgens Droogtehulp se webwerf het hulle oor die laaste 2 jaar meer as R210 miljoen se “waardetoevoeging tot die lanbou in Suid-Afrika en Namibië” hanteer.  Lees gou weer daai bedrag:  TWEEHONDERD-EN-TIEN MILJOEN RAND.

Ek ken baie sakemanne wat sommer boekhou agterop sy pakkie Stuyvesant 30’s, maar ek weet nie van veel wat dit op hierdie skaal doen nie.  Die groot rooi gevaarlig wat hier flikker is dat Burre eers deflekteer het (hy het drie weke gelede aan Rapport beloof dat hy sy boekhouer sal vra om die organisasie se finansiële state beskikbaar te stel) en toe erken dat daar geen finansiële state bestaan nie.

Verstaan baie mooi – ek is nie hier om bietjie Burre-bashing te doen nie, maar die volgende is problematies:

  • Hoe op aarde kan daar na twee jaar nie enige finansiële state bestaan nie?
  • Het Burre willens en wetens gelieg oor die bestaan van die finansiële state?

Finansiële state is nie ‘n eenmalige oefening nie.  Dis die produk van ‘n boekhoustelsel wat dag na dag bygewerk word.  En logika dikteer dat, veral wanneer jy met hierdie tipe bedrae werk, daar êrens ‘n “back-up” moet wees.  Rekenaars breek daagliks.  Rekenaars word elke dag gesteel.  Dit sal absolute malligheid wees om dit enigsins anders te doen.

En dan die groot vraag:  lieg Burre dalk?

Want sien – eers was die state daar en sou dit aangestuur word.  DEUR DIE BOEKHOUER. Wat beteken dat die boekhouer ‘n stel state tot sy beskikking gehad het.  Sekerlik het die boekhouer sy eie rekenaar, en kon die rekenaar wat “opgepak” het nie ‘n invloed op die bestaan van die state hê nie, reg?  Want dit sal vrekvreemd was as Burre en sy boekhouer dieselfde rekenaar deel.  Tensy Burre self die boekhouer is…  

Skielik bestaan die state toe nie meer nie – want daai verdomde rekenaar het opgepak…  En bankstate is nie ‘n onderneming se finansiële state nie – selfs ek wat Rekeningkunde 178 twee maal op varsity gedop het weet dit.  Bankstate is hoogstens stawingsdokumente.

Ek haat dit om dit te sê, maar ek ruik ‘n rot.  ‘n Groot, R210m se vrot rot.  En dit sal donners hartseer wees, want hierdie is die een rot wat ek nie in die hier en die nou wil ruik nie.  Burre en Droogtehulp is legendaries; ‘n sprankie lig in ‘n andersins donker wêreld.  Maar met iets so groot soos Droogtehulp kom ‘n groot verantwoordelikheid.  ‘n Moerse GROOT verantwoordelikheid.  Een wat die hoop en aspirasies, oop hande en vertrouende harte van ‘n nasie dra.

Asseblief, Burre.  Say it ain’t so.

Groot asseblief.

This Post Has 3 Comments

  1. Johan Smith

    Nes ek gevoel het toe ek dit Sondagoggend gelees het. Spot on.

  2. Div

    Waar ‘n rokie is, is ‘n vuurtjie. Ek glo nie Burre Burger is inherent ‘n skelm nie, maar dalk het die instroming van miljoene rande sy denke oorweldig en sy goeie werk negatief beinvloed. Meer wil ‘n mens nie sê nie veral as jy nie werklik bewyse het nie. Maar daar is baie onbeantwoorde vrae.

Leave a Reply