DIE KORT EN DIE LANK

In hierdie tye waarin ons leef is daar baie veterane wat swaarkry.  Back-A-Buddy is my inisiatief wat ontstaan het omdat ek bevoorreg genoeg was om ‘n buddy te kon help in ‘n tyd toe my hele wese geskree het vir hulp en uitkoms vir my eie besigheid.  Elke besigheid het ‘n winsmotief, en my eie is geen uitsondering nie.  DIe verskil is dat ek die genoegdoening ervaar het om iemand anders te help selfs toe ek gevoel het ek het hulp nodig.  Deur produkte in die Kantien te koop, help jy nie net my besigheid herstel en floreer nie, maar jy help my ook om ander veterane te help.  So deur hier te koop, back jy ten minste twee buddies.  Dankie daarvoor!   

ONS ALMAL HET 'n BUDDY...

Die broederskap en kameraderie van soldaat-wees kan jy net werklik verstaan as jy self ‘n soldaat was, of steeds is.  Dis ‘n band wat soms sterker as bloed is; een wat gevorm is in swaarkry, bloed, sweet en selfs trane.  Jare nadat jy daardie uniform weggepak het, ‘n boep gekweek het en nie meer bang is ‘n sammajoor skree op jou wanneer jy oor ‘n grasperk stap nie, dra jy daardie band in jou.  Brothers from other mothers.  Jou kamerade.  Jou buddies.

Soms is dit nie net die kopwurms wat jou en jou buddies na al die jare laat wakker lê nie.  Nie almal het dit altyd ewe breed nie, en al te gereeld is daar ‘n buddy in nood.  Back-A-Buddy is my manier om nie net myself te help nie, maar ook al die ander veterane wat ‘n skouer mag nodig hê; ‘n klein bietjie hulp sal waardeer om sy of haar las van die oomblik te dra.

DRUPPELS MAAK 'n EMMER VOL

As jy ooit ‘n Vasbyt gestap het, sal jy weet daar is net een manier om dit klaar te kry – tree vir tree.  Een voet voor die ander.  Elke bietjie tel, en elke tree bring jou nader na die einde toe.

Wanneer jy ‘n Back-A-Buddy produk koop, gaan 7.5% van die verkoopsprys aan die Back-A-Buddy fonds.  Militêre veterane en aktiewe diens-lede kwalifiseer vir ‘n verdere 7.5% afslag, met die keuse om die afslag te neem of om dit gedeeltelik of in totaal aan Back-A-Buddy te skenk.  Op hierdie manier kan tot 15% van elke item se verkoopprys in die Back-A-Buddy fonds eindig.

Let’s be honest:  ek verwag nie fireworks nie!  Dis nie asof daar skielik derduisende rande in hierdie fonds gaan val nie.  Maar elke rand gaan ‘n verskil maak.  Ek het self beleef hoe ‘n baie klein bedraggie ‘n veteraan kon keer om selfmoord te pleeg omdat hy nie geld vir kos gehad het nie.  Die druppels het die emmer volgemaak; klein bedraggies het ‘n buddy deur ‘n rowwe patch gedra.

So koop daai wynboksie.  Koop daai potjie jêm en daai bottel olyfolie.  Ek waarborg jou die kwaliteit sal top notch wees, en op die koop toe help jy iemand wat eens in sy lewe op ‘n muur gestaan het en met sy lewe gesweer het dat niks leed oor jou sal kom nie.  Back a buddy.

Sien jou in die Kantien!